Christelike oordenkings in die Daily-Message

Christelike oordenkings in die Daily-Message

Skaduwee Christen

“Ek het as 'n Lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”

Johannes 12:46
 

Is jy 'n Christen?

Indien ja, kan ander dit aan jou herken? In Matthéüs 7:16 lees ons “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Ook Jakobus het in sy brief geskryf dat geloof sonder werke dood is en dat ons daders en nie net hoorders van die Woord moet wees nie.

Vir 'n lang tyd het ek gedink dit klink baie soos werks-geregtigheid: Eers wanneer ons baie goeie dade doen is ons egte Christene. Wie ookal te min op sy lys het is 'n slegte Christen en daarom nie gered nie...

Wat is dan met die genade, waardeur ons gered is? Hang hierdie genade van ons goeie dade af?

Kom ons kyk andersom hierna. Jesus het vir ons sondes gesterf. Daarom is elkeen wat aan Hom glo deur God se genade gered. Daar bestaan geen as en maar nie! Net deur die genade kan ons die ewige lewe bekom – en het ons reeds.

In vandag se Bybelvers sê Jesus dat Hy vir ons die Lig is sodat ons nie in die duisternis bly nie. Hy is die Lig van die Liefde van God. In Johannes 3:16 lees ons dat God ons so liefgehad het, dat Hy Sy eniggebore Seun vir ons gegee het.

Kom ons gaan weer terug na die werke toe. Wat kan 'n mens, wat so geliefd is, ander doen as om ook lief te hê? Wanneer die maan in die lig van die son is, kan hy dan anders as om te skyn? Ons staan as Christene heeltemal in die Lig en die Liefde. Kan ons dan anders as om ook uit luitere liefde te skyn? En wat is 'n groter liefde, as om goed te doen aan ons naaste?

Die werke is dus nie die voorvereiste om 'n goeie Christen te wees nie, dit is die gevolg! Slegs daardeur dat ons in die Lig staan, kan ons hierdie Lig verder gee. Wie nog in duisternis sit, wie nog nie hierdie Liefde vir homself aangeneem het nie, vir hom is dit moeilik om liefde verder te gee.

Waar geen liefde en geen lig is nie, is duisternis, daar is geen lewende geloof nie, daar is die geloof dood. Maar God het ons eerste liefgehad. As ons hierdie liefde in Christus aanneem, dan is ons gered en het die ewige lewe. En so gevul met liefde kan ons glad nie anders as om ook lief te hê nie.

Staan jy ook in hierdie Lig – of is jy nog 'n skaduwee Christen?

Ek wens jou nog 'n geseënde dag in Sy Lig van Liefde.

(Translated by Linda Gates)

()


For questions and suggestions do not hesitate to send us your thoughts via Email!
© 2002-2024 by Daily-Message

This devotion is also available in English: Shadow Christian
Zur deutschen Originalversion: Schattenchristen


Next devotion: Wat sal ek sê?

Previous devotion: Toe hulle God se Seun doodgemaak het, skryf God 'n nuwe Testament


Search inside the
Daily-Message
Loading

   

http://af.daily-message.com (table of contents) ~ Kannst du Andachten aus dem Deutschen übersetzen? ~ Andacht-Center - Devotion-Center ~ Impressum


Zur Administration