Christelike oordenkings in die Daily-Message

Christelike oordenkings in die Daily-Message

Die Nuwe Jerusalem

“En ek het my oë opgehef en gekyk – daar was 'n man met 'n meetsnoer in sy hand. Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is. En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en 'n ander engel het te voorskyn gekom, hom tegemoet, aan wie hy sê: Jerusalem sal lê soos 'n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in. En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, 'n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.”

Sagaria 2:1-5
 

Ek droom saam met die profeet Sagaria. Ek stel my voor dat hy nog in ballingskap in Babilon woon, maar gemerk het: Die tyd is ryp om eindelik huis toe te gaan, terug na Jerusalem. Die verwoeste stad sal dan geheel en al iets anders wees, 'n stad, waarin God self woon. Hy droom van 'n nuwe stad, van 'n nuwe Jerusalem. So staan ek met Sagaria in die vuur wat hierdie stad soos 'n muur omsingel. 'n Vuur, wat warm en innig brand en tog niemand verbrand nie. 'n Vuur wat ons verseël en met hartstog vul. 'n Vuur wat ons harte warm maak. 'n Vuur wat drome en emosies verwek en beskerm.

Tesame met Sagaria kyk ek na hierdie stad, waarin alle wedywering gesterf het, waar mense se vernederende standaarde buitekant die mure gebly het. Daar is geen geweld meer nie, geen vernedering, geen fanatisme, geen mag-gevegte en geen vooroordele nie. Hier word nie meer onderskei tussen arm en ryk, evangelies en katolies, vrou en man, priester of leek, swart en wit, getroud en geskei – dit alles speel geen rol meer in hierdie stad nie.

Die wat swak is word sterk, die wat klein is, groot. Die grense vloei oor en die wydte is oneindelik. Oor die stad heers 'n glimlag van genade en barmhartigheid. Die mense kan asem haal, hulle asem die oopheid en vryheid van die stad in. Die stad is vol lewensvreugde. Die moed van die mense loop oor. En God woon te midde van hierdie stad: Hy en Sy grenslose liefde, Hy en Sy alles-oorwinbare vrede. Hy sal die siekes gesond maak, die stommes laat praat, die moedeloses laat opspring en jubel. Hy sal die dowes laat hoor, die trane afvee, die dooies tot lewensvreugde verwek. Hy alleen is die waarheid van hierdie stad, 'n waarheid, wat ons kan voel.

En so voel ek met Sagaria die vuur van hierdie stad, voel ek die smagting wat in my brand, om in hierdie stad van saligheid, in hierdie stad van God te woon. Maar is hierdie stad op hierdie aarde, of lê dit vêr buite ons werklikheid in 'n ander, nog onbereikbare wêreld? Is dit nog 'n onvervulde visie? Maar dan hoor ek, hoe Jesus in die Evangelie praat: Die Koninkryk van God is hier! Dit begin alreeds. Dit is hier en reeds tasbaar. Ja, die stad groei alreeds.

Derhalwe, vra ek Here:

Laat die vuur in ons brand, wat alle heerskappye vernietig, alle afguns en gierigheid, alle terreur en geweldadigheid, alle vernedering en ontmoediging, alle standaarde wat mense tot slawe en veroordeeldes maak.

Laat U vuur in ons brand, sodat mense van hierdie stad hoor en hierdie smagting ook in hulle verwek word.

Laat U vuur in ons brand teen alle invloede wat die vuur in ons wil blus.

Want ons vertrou daarop Heer, dat U tussen ons sal woon. Nie eers in die toekomstige stad nie, maar alreeds hier en nou is U vrede met ons.

Laat ons dan 'n goeie voorbeeld wees, want waar die hartstog brand begin hierdie stad gestalte aanneem.

Amen.

(Translated by Linda Gates)

()


For questions and suggestions do not hesitate to send us your thoughts via Email!
© 2002-2024 by Daily-Message

This devotion is also available in English: The New Jerusalem
Zur deutschen Originalversion: Das neue Jerusalem


Next devotion: In Ewigheid - Amen!

Previous devotion: Ware Skoonheid


Search inside the
Daily-Message
Loading

   

http://af.daily-message.com (table of contents) ~ Kannst du Andachten aus dem Deutschen übersetzen? ~ Andacht-Center - Devotion-Center ~ Impressum


Zur Administration