Weet julle, partymaal sit ek regtig lank voor my rekenaar en wonder wat ek vir die spesifieke dag as boodskap kan skryf. En partykeer kan ek daelank aan niks dink nie. Tog, van êrens af, kom opeens 'n gedagte, ietsie klein, wat my beweeg. En dan begin ek doodeenvoudig te skryf.
As julle tot dusver al 'n paar boodskappe gelees het, sou julle agtergekom het, dat die boodskappe meesal nie oor die groot dinge van die wêreld is nie. Dit gaan eerder oor die klein dingetjies, oor oomblikke in ons lewens.
En as ek eers begin skryf, kom ek agter, dat die boodskap homself partymaal amper alleen skryf, so asof ek nie eintlik die een is wat dit skryf nie. Ja, dit is werklik so. Die woorde wat hier staan is van ons. Maar langs ons staan Iemand, wat vir ons voorsê wat ons moet skryf. God self gee my die woorde en lei my vingers oor die sleutelbord, as ek dit toelaat. Ek hoef nie self iets uittedink om te sê nie. Hy het soveel wat Hy vir ons wil sê.
As ons Hom in ons lewe toelaat, hoef ons geen angs te hê om oor Hom te praat nie. Of dit nou hier in die boodskap is, of onder vriende, of selfs ook in die gemeente. God self neem die Septer in die Hand en verkondig Sy Woord. Ek hoef geen angs te hê nie want Hy staan altyd by my as ek oor Hom vertel.
Doodeenvoudig geniaal!